Liefde in die lug

Teen more hierdie tyd het ek my geliefde al by die lughawe gaan optel.  Om te sê ek bars uit my nate van opgewondenheid, is ‘n understatement. Ek het hom twee maande laas gesien, en ek mis daai liewe man van my.  Ek het ‘n paar verrassinkies vir hom, maar ek kan nie sê wat dit is nie, want hy gaan heel waarskynlik my blog vanaand lees as hy homself by sy hotel ingeboek het.  Dis die ergste. Hy is vanaand al op South African soil, maar ek sien hom eers more!  Bitter gedagte! 

Aangesien ek een van die outydste soort gasvrouens is, moet die huis vandag spiek en span wees. Daar wag ‘n berg strykwerk en die tuin kort ook nog bietjie werk.  Ek gaan seker vir die volgende twee weke aan die stillerige kant wees. Moet my tog nie heeltemal vergeet nie!  ‘Seblief?

Vandag: Geen mans, asseblief!

My Sagmoedige Neelsie kom oor drie slapies.  Natuurlik is dit my hartsbegeerte dat alles reg en in orde is vir sy koms.  Dis makliker gesê as gedaan. Soos ek vanmiddag uitgevind het toe ek gaan shop het vir die regte bra.  Ek is skaam om te erken:  EK WEET NIE WAT MY BRA-SIZE IS NIE; EK HET NOG NOOIT GEWEET NIE!

Ek het nog altyd ‘n grootte in my kop gehad, en gelukkig het dit (in die verlede) altyd min of meer gepas.  Of ek het dit laat pas. Maar vandag wou daai kite nie meer vlieg nie.  Ek kon om die dood nie ‘n bra kry wat pas nie! Bygesê, ek het ‘n mental block as dit by ‘n sekere size kom, en jy vang my nie lewendig (of dood) in ‘n bra wat my ma sou dra nie. Op die ou einde het ek enetjie gevat. Hy pas nie regtig nie, maar alles kyk darem op en ek sal met hom kan saamlewe.

Vanaand het ek,  danksy Google,  op ‘n plek afgekom waar jy jou bates kan meet en hulle spoeg dan die regte grootte vir jou uit. Dit was nogal ‘n skok om te sien wat ‘hulle’ dink ek behoort te dra, maar more sal ek Woolies weer aandurf.  Dan sal ons sien hoe akkuraat die berekenings is! Ek gee nou nie meer om watter size ek is nie, Oprah het my finaal oortuig dat die regte bra ‘n noodsaaklikheid is.  Met swaartekrag wat so groot rol speel, het ek al die ondersteuning in die wêreld nodig…

Maar nou wonder ek. Is dit net ek, of tas van die ander dames ook so in die donker rond…?

Hondedrolle en groen dieretuintjies

Julle moet my vergewe. Ek is nou so meegevoer deur soete herinnerings aan my kleintyd op Ascent.  Alles was nie altyd maanskyn en rose nie.  Ek het ‘n pa gehad wat nie altyd al sy varkies op hok gehad het nie, maar selfs hy kan nie ‘n skaduwee gooi oor regtig gelukkige memories nie. Tsk! Vergeet hom vir die oomblik.  Laat ek julle vertel van my bababoetie, Jurie.

Jurie is drie jaar jonger as ek.  Vir ‘n lang, lang tyd was my naam Sussie, Pieter was Boetie, en Jurie was Baba.  Hy was seker so 5 jaar oud, toe my ma besluit het die kind kan nie deur die lewe gaan met sò naam nie.  Ons moes oorskakel na ons regte name. O, die ontwrigting! Met ‘n paar klappe en baie tyd,  het ons dit later tog aangeleer.

Jurie is nou al diep in die dertigs.  As mens vandag na hom kyk, met alle respekte, dan sal mense wat hom nie ken nie, hom ‘n sloerie noem.  ‘n Regte maplotter.  Maar, as klein seuntjie  was Jurie my ouers se trots.  Ek onthou so vaagweg die klein blondekop seuntjie wat altyd ‘asseblief’ en ‘dankie’ gesê het, en ook goed soos ‘Verskoon my asseblief van die tafel’.  Vriende van my pa het eendag amper hul vurke ingesluk toe die klein polite mannetjie homself van die tafel verskoon het.  En hy het altyd  ‘n toeknoophempie en ‘n das gedra.  En kouse en skoene.

Dit was dus g’n wonder dat ek en Pieter hom altyd afgeknou het nie.  Destyds was ons twee bietjie bar, en die fynopgevoede seun waaroor die mense ge-oe en ge-aa het, het ons suur gemaak.  Boonop was ons ouer (en groter) as hy.  Ek onthou eenkeer toe Pieter en Jurie resies gehardloop het op die ‘atletiekbaan’.  Dit was ‘n gelyke stryd, want al was Pieter ouer, was hy ‘n klein pokkel, en Jurie sou hom maklik kon wen.  Hy het net nooit die kans gekry nie. Piet het gesien hy gaan sleg tweede kom, vinnig gesaag om net langs Jurie te kom, en hom toe met ‘n mighty shove laat sloeg deur die grond. 

Maar met sonsondergang het Jurie wraakgeneem. Elke aand, sonder uitsondering.  Dis te lank terug om te kan onthou presies hòè lank die ritueel aangehou het, maar ek reken dit was ten minste ‘n jaar.  Dit was voor televisie in ons lewens gekom het.  Ons het buite rondgespeel vir solank ons kon, want badtyd was iets wat ons wou vermy.  Dis wanneer Jurie sy troefkaart uitgehaal het:  ‘n droë, wit, harige hondedrol.  Ek en Pieter het om een of ander rede ‘n heilige vrees vir daardie drol gehad, en Jurie het dit goed uitgebuit.  Hy het ons gejaag met daai ding, en ons het gehardloop asof ons lewens daarvan afhang.  As die ’speletjie’ uiteindelik verby was, het hy sy drol gaan wegsteek en weer in die opgevoede seuntjie verander.

Ek en Pieter kon darem èènkeer goed voel toe Jurie my ma in ‘n groot verleentheid gestel het. Nogal voor vername mense van die omgewing wat die spesifieke aand by ons kom eet het.  My ouers was baie trots op hul groentetuin, en die aand het my ma weer vir elkeen ‘n individuele bakkie slaai geskep: ‘n hele slaaiblaar met tamaties, uie en pietersielie mooi daarop gerangskik.  Die ete was al aan die gang toe my ma ‘n groen wurmpie uit Jurie se slaaiskeppinkie sien kruip. Ongemerk het sy die wurmpie van die bordjie afgeskiet en op haar servet doodgedruk.  Maar Jurie het dit gesien en luidkeels aan’t skreeue gegaan: “Ma het my dieretuintjie doodgemaak!!!”  Die gaste het beleefd geglimlag, maar my ma het nie gehou van die manier hoe hulle die slaai daarna geïnspekteer het nie…

Die kat wat nie wou praat nie

My kinderjare het ek deurgebring op Ascent, ‘n klein spoorwegstasie tussen Vrede en Standerton.  My ma was die skoolhoof van die plaasskool.  Dit klink baie vernaam, maar sy het net een klaskamer gehad en al die standerds van sub A tot st. 5 was in dieselfde klas.  En sy was die enigste juffrou.   Die plaasskool het ‘n huis op die perseel gehad, en dit was ons tuiste vandat ek kan onthou, tot ons in my st. 5 jaar Bloemfontein toe is. 

Ek en my twee jonger boeties, Pieter en Jurie, het ‘n redelik onbevange jeug gehad op Ascent. Behalwe vir die feit dat my ma ons nooit laat Chappies koop het by die enigste kafee nie, en dat sy geweier het dat ons in die ’strate’ rondloop, soos die ander kinders nie. As mens die grondpadkruising strate kon noem! Gelukkig was die skoolperseel groot.  Die ‘rugbyveld’ was ‘n ronde sirkel veld toe onder kniehoogte rooigras.  Die ‘atletiekbaan’ was rondom die rugbyveld, maar die gras was effe korter.  Die twee kante wat aan die pad gegrens het, het groot bloekombome gehad. Die res was omgrens deur Oom Cilliers se plaas, waar ons ook kon speel.

In ons erf het ons ‘n groot appelkoosboom gehad.  In daardie boom het ek en Pieter ontdek dat alle diere nie dieselfde is nie.  As skoolhoof het my ma redelik gesag gedra, en ons, haar spruite, in ‘n mindere mate, ook. So het ek en Pieter eendag besluit dat van ons skoolmaats nie na behore na hul katjie omgesien het nie, en ons het die kat vir ons gevat.  Dit was ‘n klein, swart katjie.  Hoe ons op die idee gekom het om die kat te leer praat, kan ek nie meer onthou nie.  Al wat ek wel kan onthou, is dat ons vir twee weke elke middag met die katjie in die appelkoosboom gaan sit het, en hom intensiewe spraaklesse gegee het.

In ons kindergemoedjies kon ons geen rede sien hoekom ‘n papegaai kan praat, en ‘n kat nie.  Ons eerste leesboekie op skool, was Toos.  Ek onthou so goed die eerste drie bladsye uit Toos. (Toos was ‘n papegaai) “Toos”.  “Kom, Toos”. “Kom sit, Toos”  Gewapen met Toos het ons die kat probeer onderrig in die wonder van spraak.  Na twee weke het ons besef die kat gaan nooit praat nie, en hom weer by sy eienaars gaan afgee.  Een van die eerste teleurstellings van ons lewens.

Ons het nie opgehou op diere te leer praat nie.  Die hoenders was volgende, en daarna ons rifrughonde.  Ondanks al ons pogings, kon ons dit nooit reggekry om ‘n dier te laat praat nie.