
Spesiaal vir Heiko.

Spesiaal vir Heiko.
Dankie vir die kommentare. Ek sal more of oormore antwoord – maar nou is ek vaktap en my voete brand soos kole vuur.
Eintlik kan ek nie te veel kla nie. Die girls was bly om my weer te sien, die dokters was bly om my weer te sien, en ek is gepamper en mooi opgepas. Nogtans het ek soos ‘n totale idioot gevoel. Was ek ‘n totale idioot.
Dit klink of ek oordryf, maar ons was besig – aanvanklik 5 babas gehad, maar later die middag nog twee opgeneem. As mens in ag neem dat die eenheid eintlik net 4 babas kan huisves, kan julle imagine hoe beknop dit was. En met nie genoeg suurstofpunte vir al 7 nie, raak dit ‘n geval van “‘n boer maak ‘n plan”. ‘n Plan wat gewerk het, maar dit het baie rompslomp veroorsaak.
My twee kollegas, Alta en Ronell, was sterre. My geduldig weer van voor af geleer en my baie foute en flaters weggelag. Dis ongelooflik hoe baie mens kan vergeet in 42 maande – dis presies hoe lank gelede ek gewerk het! Dis soos naaldwerk. Vandag kan ek net my kop skud oor die oulike prinsesrokkie wat ek 10 jaar gelede vir Jeannie gemaak het nie – ek kan nou beswaarlik ‘n knoop aanwerk. Toe ek daar weg is, het ek nagdiens gewerk – stoksielalleen op ‘n skof. Ek was so slim! Wáár is dit alles heen?
Met die rondgeskarrel, het ons darem baie gelag ook. Die een nuwe baba is opgeneem met ‘grunting’ – ‘n aanduiding van respiratoriese nood. Sy bloedgasse het egter gewys hy hoef nie geventileer te word óf selfs suurstof te kry nie. Die pa het vir die baba kom kuier, maar die hele tyd met die baba gevroetel, wat die baba nog meer laat steun het. Altatjie het doodonskuldig die pappa gevra om nie te veel met die baba te karring nie, want dit vererger net sy toestand. Waarop die pa haar ernstig geantwoord het: “Ek’s ‘n chiropraktisyn.”
Ronell het amper haar masker ingesluk van lag, en ek het net my kop laag oor my baba gehou om die lagbui te verdoesel.
En toe ons net na 7 klaar aan die nagskof oorgegee het, het hulle my hoopvol gevra of ek more weer sal werk? Hulle sou seker nie as ek ‘n nul op ‘n kontrak was nie, hê?! Ek dink nie ek gaan nie. Pieter was ‘n knaende gatvliegie toe ek by die huis kom; glad nie gewoond om sonder sy mammie te wees nie. (Goed genoeg verskoning vir my!)
Maar miskien Vrydag.
So kry ek verlede week ‘n brainwave soos min: ek moet weer bietjie gaan werk. Pas die uniformpies aan. Ja, hulle pas nog mooi. Bel die werk en ja, hulle is toegegooi onder siek babas en soek ‘n paar ekstra hande gretig. Ek is lankal nie meer geregistreer by die Raad nie, en moet eers gaan betaal voor ek kan werk. Sjoe! en ek voel so opgewonde! Ek gaan weer werk!
More is D-Day en ek berou my entoesiasme deeglik. ‘n Besluit wat ek doodnugter geneem het, lyk nou na iets wat net ‘n besope vrou sou doen. Hoekom, hoekom, hoekom was ek so domastrant??!! Die antwoord is eenvoudig. As ek eendag dalk na groener, veiliger weivelde wil gly, moet ek seker kan wys dat ek nog my hand ‘in die ding’ gehou het? Nou is ek egter banger vir more as wat ek saans in my huis, agter slot en grendel, is.
Ek twyfel of ek nog ‘n polsie of koors kan neeem, wat nog te sê van ventilator settings, bloedgas-interpretasies en intubasies?? Wat ek kan onthou van natrium en kaliumvlakke en asidose is bitter gevaarlik.
Nee, o wee. Ek sidder in my skoene.
Vir ‘n slag word ek in eie munt terugbetaal.
Iemand probeer my block van sy site. Whoa! Onskuldige, dierbare ekke?!
Anyway, ek het ‘n idee wie dit is, maar om nie op onskuldige tone te trap nie, wil ek tog die persoon uitnooi om my te mail na boendotdoeathotmaildotcom. Sê maar ietsie soos “Skoert”, dan is die saak reg. No hard feelings, promise! Ek kan hóé lief wees vir iemand, maar ek doen nie die ‘go where I’m not wanted’-ding nie.
Miskien moet die Afrikaanse bloggers meer begin blog. Daar is net een of twee of drie wat nog af en toe ietsie skryf, en ek boer by hulle. G’n wonder sommiges dink ek harrass hulle nie.
Al die nommers met die nulle het gekom en gegaan, maar in my koppie was die “50 000″ die ene wat saakgemaak het! Nou is ek 15 hits weg van daai nommer, en hopelik gaan vandag die dag wees.
Ek sê baie ek doen dit vir myself/as terapie (!!)/vir my familie, maar as ek moet eerlik wees, dit sou verskriklik gewees het as ek my hart en siel hier blootgelê het en niemand het belang gestel nie! So, in daardie opsig was dit seker terapie. (Al het net my pêlle soms by my boring posts gecomment om my darem nie te sleg te laat voel nie!)
So, dankie aan almal wat die afgelope twee jaar hier gelees het. Sonder julle vingers wat hierheen gekliek het, sou ek nie vandag so hêppie gevoel het nie!

Wat is dit met die reën?
Daar is niks so romanties en knus soos die geluid van reën wat in vlae op die dak val nie. Die anderste geluid van water wat by die stukkende geut uitloop. Die wind wat woes en befoeterd waai.
Mits daar iemand is in wie se armholte jy kan sit. ‘n Warm rug waaragter jy kan insnoesel, iemand wat nie omgee as jy jou koue voete teen syne warm maak nie.
Maar hel. As dit reën op ‘n koue Sondagaand, is dit die droewigste, eensaamste gevoel as jy jou lyf alleen moet bed toe sleep.
Dis hoekom ek nog steeds hier sit.
Die video is te Angelina Jolie-rig, maar die woorde…goed waaraan ek deesdae baie dink.
Ek het ‘n paar keer probeer om die fliek, The Notebook, te kyk, maar het elke keer tou opgegooi. Dit was net te deurmekaar, of dalk was dit net elke keer die verkeerde tyd om na so tipe fliek te kyk. Ek het dus nooit geweet waaroor dit gaan nie. Vanaand het ek op ‘n blog afgekom, en in een van sy possies vra die skrywer: Het julle Notebook liefdes?
Ek moes toe maar gaan lees waaroor die fliek gaan! Ou liefde.
Dink jy soms nog aan ‘n ou liefde? Verlang jy nog na ‘n ou liefde? Het jy weer kontak gemaak met ‘n ou liefde? Het daar al ooit ‘n verhouding gekom uit ou liefdes wat weer ontmoet het?
Of word ou liefdes gewoonlik heeltemal vergeet?

Vir twee dae dreig ek om die blare in die tuin op te hark. Hark is seker nie die regte term nie. Die tuin bestaan hoofsaaklik uit ‘pebbles’ met twee beddinkies – as mens dit so kan noem! Klippies kan jy nie hark nie. Ek moet op my se kniegies die blare met die hand opskraap. Gelukkig is dit nie ‘n groot area nie, maar dis groot genoeg om my ‘n hele paar uur besig te hou. Die boom wat die ergernis veroorsaak, is op die buurman se erf, maar ek sweer die blare val alles aan my kant af.
Gister en vandag was heerlike sonnige dae. Die res van die land kla oor die koue, maar ons loop nog met T-shirts en kortbroeke rond. Sommer nog vanmiddag was ek baie grootbek op Facebook oor ons lekker weer. In elk geval, met die sonnigheid vanoggend, begin ek die tuintjie tackle. Tussen die klippies word elke droë blaartjie uitgewriemel. Ek trap versigtig in die beddinkies in en raap die blare tussen die plante ook bymekaar. (Nee, Nelba, mulch klink na ‘n goeie idee, maar dit lyk net te onnet. Boonop waai die blare later stoep toe – wat nie ‘n mulch nodig het nie!)
Toe ek uiteindelik klaar is, sien ek dat daar alreeds weer ‘n paar ‘nuwe’ blare rondlê. Tel dit ook maar op, en gaan gooi die sakke weg. Gaan sak agterna in ‘n warm bad, baie tevrede met my dagtaak.
Vanaand het ‘n stukkie van die land se koue weer ons uiteindelik ingehaal. Nie juis vriesend nie, maar…die !#$%^%$% wind waai woes. En ja, toe ek nou-nou uitloer, lyk my tuin weer presies nes vanoggend.
Why, oh why??!
‘n Ietsie vir my beloved.
Onlangs kwytgeraak: