Kaalgat innie reen…
May 5, 2008 — boendoeEk het al voorheen genoem dat baie van ons ‘avonture’, eintlik die resultaat is van ons totale stupidgeit. Daardie teorie het ons die afgelope naweek reg bewys.
Woensdagaand, omtrent 19h00, ry ons uit die kamp uit. Manlief het verlof ingesit vir Vrydag, en ‘n heerlike langnaweek strek voor ons uit. En…ons besluit ons ry Namibe toe. ‘n Hele 2 450 km verder. Om ‘tyd te wen’, wil ons Woensdagaand al deur Luanda wees. Dis die ergste deel van die trippie. Ons beplan om by die Kwanza-riviermond oor te slaap.
Die langnaweek-gevoel brand hoog, en ons gaan eet eers garnale in Viana. Op die ou einde kom ons na middernag by ons afdraai na die riviermond aan. Voor mens by die mond uitkom, ry jy eers verby ‘n groot soutpan. Die uwe, nou baie, baie moeg, dring daarop aan dat ons op die soutpan moet uitkamp. Ons wil immers weer 5h00 die volgende oggend in die pad val. Dit het nie sin gemaak om wiele af te pomp en deur sand te sloeg vir ‘n 5 uur-lange slapie nie. Ongelukkig het my wederhelfte ingegee.
Dis ‘n windstil nag. Geen wolkie in sig nie. Net talle blink sterretjies. Ons slaan ons tentjie op, maar los die penne om hom te anker. Ook g’n tyd vir die ‘flysheet’ nie - dit lyk mos nie asof daar reën gaan wees nie. Die gazebo kom bo-oor die tent. Vir beskerming teen ‘moontlike’ reën, maar ook hy word nie geanker nie. Dit was ‘n moeë drietal wat op die matrassies neersak…
Presies ‘n uur later word ek wakker met die geluid van ‘n woedende wind in my ore. Vet reëndruppels plons deur die oop tentopening op ons neer. Ek maak my geliefde wakker en beduie ons moet die bybie bakkie toe vat en begin kamp afslaan. Dis sover ek gekom het. Die volgende oomblik vlieg die gazebo onderstebo oor die tent, en dit begin sous…
Pa is baie, baie erg oor sy gazebo. Hy hang soos ‘n vink aan die gedoente wat nou ‘n baie eienaardige fatsoen het. Toe ek sien dat ek nie juis hulp by hom gaan kry nie, vlieg ek met Pieter en sy kombers bakkie toe en drop hom soos ‘n warm patat, voor ek weer terughardloop om ons ander kombers en sakke te gaan red. Manlief probe er nog steeds sy gazebo red. Intussen waai die wind kwaai, en die reën deurdrenk ons tot op die vel.
Met die meeste van ons besittings veilig in die bakkie, gaan assisteer ek vir Pa. Die gazebo is een van daai ooptrek en toedruk affêres. Gewoonlik doen 4 mense dit. Ek en Pa kon dit nie regkry in daardie weer nie. Ek praat mooi met hom, verduidelik dat ons eerder ons losses moet cut. Uiteindelik laat los Pa, en die gazebo bollemakiesie van ons weg. Ons aandag gaan tent toe. Ons matrassies is nog daarin. Teen hierdie tyd is die soutpan een snotterige laag modder. Die tent is vol modder. Toe dit lyk of ons regtig nie gaan wen nie, trek ons die tent tot half onder die bakkie. Vir later.
Poedelnakend spring ons bibberend in die bakkie, ons pajamas nat, modderige hopies buite op die grond, en raak wonder bo wonder weer aan die slaap. Teen 4h00 word ons wakker as gevolg van ‘n oormag muskiete wat die bakkie deur die ‘vent’ binnestroom. Die storm is verby. Steeds kaalgat, klim ons uit en kyk wat te redde is. Die tent word agtergelos. Wie is lus vir ‘n modderige tent aan die begin van ‘n naweek? Die gazebo is beyond repair. Die nat, vuil matrasse word agterop gelaai met die hoop dat dit wel droog sal word.
Dis eers toe die eerste vissermanne se 4×4’s begin indraai na die mond se rigting, dat ons besef dat ons steeds in ons geboortepakkies rondloop…
Ons het ‘n paar lessies daai aand geleer:
1. ‘n Soutpan is nie goeie kampplek nie. Veral nie tydens die reënseisoen nie. 2. Tente en gazebo’s moet altyd geanker word. Altyd. 3. Die natuur is regtig onvoorspelbaar. Dit kan binne enkele oomblikke radikaal verander. Mens moet nie dat wolklose, sterligaande jou flous nie. 4. ‘n Man kan besonder baie geheg raak aan sy gazebo. Verkieslik moet ‘n ‘verlore’ gazebo so gou as moontlik vervang word. (En dis wat ons gedoen het. ‘n Peperduur tent met ‘n gazebo gaan koop by Lobito se Shoprite! Die prys van al daai lessies: net 300 dollar.) *sug*
- Die gazebo...
- ...en die tent


May 6, 2008 at
Tent en Gazebo: 300 dollar
Memories: Priceless
May 6, 2008 at
Hehe! Geboortepakkies, sê jy…
Ek stem saam met Jaco - priceless memories!
May 6, 2008 at
Daai vissermannne het seker gedink hulle het ‘n catch en ‘n half toe hulle die kaal vrou sien rondloop!
May 6, 2008 at
Boendoe
Duidelik het jy nie heng-ups nie. Ek wens ek kon dit sien.
May 6, 2008 at
May 6, 2008 at
Hmmm… Adrie, dis mens se oorlewingsinstink wat jou van alle inhibisies laat vergeet!
May 6, 2008 at
Wat ‘n ervaring! Maar ek dink as mens nog nie so ‘n tipe ervaring gehad het nie, het jy nog nie gekamp nie. Op die oomblik is dit gewoonlik nie snaaks nie, maar die humor kom as mens terugdink aan so ‘n ervaring.
May 6, 2008 at
Hi Boendoe,
Eks bly jy is terug. Ek sal op die stadium wat wou gee vir so naweek…met soutpan modder en al. Bottomline - solank julle dit geniet het
Groetetjies
Sonneblom
May 6, 2008 at
So leer ‘n mens op die harde manier…
Ek het ook al wakker geword, besig om weg te spoel op my matras! Not nice! Dis mos nou sulke memories wat die lewe die moeitewerd maak. Soos Boer se, dis nie op daardie oomblik snaaks nie, maar dis iets wat jy vir lank gaan onthou en waaroor jy nog lank gaan lag! 
May 6, 2008 at
Gelukkig is julle nog hups. Kan jy jou voorstel as julle altwee so 15 / 20 jaar ouer was, dan was dit Gazebo - Tent en velle wat so rondflap in die wind.
Ek het hierdie inskrywing vreeslik geniet. Dit klink so bleddie lekker! 
May 6, 2008 at
Ja-nee, ek sou ook graag daardie vissermanne se gesigte wou sien. Eendag sal jy hierdie onthou as jou nudiste naweek
May 7, 2008 at
Welkom terug vriendin! Hee Yeee ek wonder ook, daardie vissermanne het seker gedink hulle het verkeerd verstaan en dis al die tyd ‘n nudiste-visvang-naweek!!
Ek dink ook dis hierdie tipe naweke en avonture wat jy reeds belewe het, wat jy die meeste gaan mis. Jy moet maar soveel as moontlik foto’s saam Pieter neem, want as hy eers groter is, vergeet die kinders dit, laat hy weet hy was deel van die avontuur in Angola.
May 7, 2008 at
Ai tog Boendoe dit het my dag gemaak!!!

May 7, 2008 at
Marina, waar is jou mooi avatar heen!! Ek mis daai voetjies!
May 7, 2008 at
2 450 km !? Julle gaan aambeie kry van al die sit. Skoonma bly 800km ver en ons ry daai pad 1 maal ‘n jaar. DIT voel vir my al te ver.
May 7, 2008 at
Roer skeep haar eie persoonlike skoonma af, en dan wil sy vir ander preek.
May 7, 2008 at
Ja, Adrie, noudat jy dit noem, dis waar! Of hoe, Roertjie??
May 12, 2008 at
Aai Boendoe, mens het definitief nog nie jou kamp vuurdoop gehad as die wind, reen, vloede, mozzies, miere, ens, ens jou nog nie getref het nie! Maar ja, nice is dit definitief nie wanneer dit gebeur nie en ‘n modderspul is ‘n naarheid. Gelukkig bou mens ‘n goeie herinneringsbank vir daardie lekker kampvuurstories. Ek het julle wedervaringe baie geniet - ons is ook mal oor kamp en kan ook al boeke skryf!
May 13, 2008 at
LoL, Sandy Bay se moses, hier kom Boendoe en liefie!