17
Sep
08

Babbelaas

Amper 18 jaar gelede was ek ‘n baie jong moeder.  My oudste was ses maande oud.  My eksman het besigheid gedoen met Taiwanese, en een dag het hulle ons oorgenooi.  Dit was nie ‘n ete-afspraak nie, ons sou eintlik na hulle huis gaan kyk het.  Dit was nog ligdag toe ons daar opdaag, maar digby middernag toe ek uiteindelik daar uitgekruip het.

Die Oosterlinge was vreeslik gaaf, en duidelik geëerd dat ons hulle besoek het.  Ons het ge-oe en ge-aa oor hulle mooi huis, en later het die twee vroutjies my oorreed om hulle te grimeer.  Hulle het so baie gehou van die manier hoe ek myself gegrimeer het.  En ek het die twee kinders sommer ‘n bietjie Engels ook geleer, op hulle aandrang.

Ons was al ‘n hele rukkie daar, toe ons uiteindelik ons sit kry, op kussinkies by ‘n lae vierkantige tafeltjie.  En vir die eerste keer word ons iets aangebied om te drink.  ‘n 10 jaar oue KWV brandewyn.  Op daardie stadium was ek regtig nog die onskuld vanself, ‘n ‘wholesome’ Vrystaatse meisie.  Ek het die brandewyn vriendelik van die hand gewys, en die gashere het bietjie afgehaal gelyk.

Toe kom ons kos.  Ewe skielik, onverwags, uit die bloute.  Ons het mos nie geweet ons gaan daar eet nie!  Met stralende gesigte bring hulle borde en borde kreef uit.  My bloed het gestol.  Dit was die eerste keer dat ek ‘n kreef gesien het, en die prentjie het my hart laat ruk.   Massiewe, oranje monsters met lang voelers en heeltemal te veel bene.  My man het my ongemerk gestamp en iets soos “just do it” gemompel.  Die sweet het teen my rug afgeloop terwyl ek na die gedroggie op my bord gestaar het.  Ek het geweet hy moet in, hòè het ek nie geweet nie.  Om tyd te wen, trek ek toe my wit koffiebeker nader en vra vir brandewyn…

Die eerste sluk of twee was agony.  Dit het ‘n paadjie van vuur na my maag gebrand, nogtans was dit beter as om die kreef te begin tackle.  Die vriendelike gashere en my man het al begin weglê aan hul kos, maar ek het nog lekker gekuier met my KWV’tjie.  Of so het ek dit laat lyk.  Na die eerste beker KWV, het ek uiteindelik genoeg durf gehad om die kreef letterlik en figuurlik in die oë te kyk.

Vandag geniet ek kreef, maar daardie eerste ene was ‘n nagmerrie.  Dit was vir my asof ek ‘n gogga moes eet, en ek kan oor die algemeen nie goggas uitstaan nie.  My man het gehelp om die ding oop te breek, gewys wat en waar ek moet eet.  Ek het ‘n happie gevat, gevoel hoe my maag begin sametrekkings gee, en het summier nog ‘n sluk brandewyn gevat.  So het ek die kreef afgewurg.  Klein happie kreef, groot sluk KWV, terwyl die sweet op my voorkop pêrel. 

Die ete was al lankal verby, toe kuier ek nog met my brandewyn koffiebeker.  Die goue vloeistoffies het lekker begin raak.  En hoe dronker ek word, hoe meer wil ek hê.  Die vroutjies het gelukkig my baba oorgeneem, en hy het doodgelukkig op hulle skote gesit en kwyl.

Terug by die huis het my stiefseun (toe darem al ‘n tiener) my net een kyk gegee en aangebied om saam met die baba te slaap.  Tot vandag nog sal ek sy kindness van daardie aand nooit vergeet nie.  Hy’t die baba in sy kamer gaan neerlê, my in die bed gehelp en ‘n swartsak en ‘n emmer voor my bed kom neersit.  Hoeveel waardering het ek nie daarvoor nie!  Ek moes die emmer verskeie kere daardie nag gebruik.  Ek kon nie my oë toemaak nie, want dit het kompleet gevoel of ek van die aardbol gaan afneuk.  Net ‘n baie dronk mens kan met oop oë slaap!  Die kreef en brandewyn kombinasie was dodelik.

Oor die volgende dag hoef ek nie te veel sê nie.  Ek het nog nooit weer so hangover gehad nie.  En ek het nog nooit weer sedert daardie noodlottige dag, brandewyn oor my lippe gehad nie.


21 Responses to “Babbelaas”


  1. September 17, 2008 at 7:57 am

    Whaaahahahahahahahaha

    Eerste!!!!!

  2. September 17, 2008 at 8:00 am

    :lol: So boendoe jy voel nou oor 10 jaar oud KWV brandewyn soos Rosalind voel oor OBS.

  3. September 17, 2008 at 8:04 am

    Boendoe . . . Net ‘n dronk mens kan met oop oe slaap.

    Ek het ‘n outjie geken wat selde met toe oe geslaap het. Ons was saam op jooltoer en het ‘n tent gedeel. Die oggend het ek ligdag wakker geword om net uit die slaapsak te klim en verder te slaap. Dit was Desember/Januarie en donners warm. Toe ek my omdraai kom ek agter sy oe is oop, maar hy snork skoon soos wat hy slaap. Ek het my boeglam geskrik.

    Agterna kom dit uit. Hy kon nie soos die ander kinders wakker bly op voortrekkerkampe nie. Hy moes of geboelie word (tandepasta smeer ens) of leer om met oop oe te slaap. Die laasgenoemde was vir makliker. Hy was (is seker nog steeds) baie verfynd. Hy het altyd ‘n hemp op die strand gedra. Dit was net uitgetrek as hy gaan swem het. Uit die see het hy hom afgedroog en weer sy hemp aangetrek.

  4. September 17, 2008 at 8:31 am

    Ja, Adrie, ek het ook ‘n kind wat met sulke half-oop oe slaap. Dis scary! Soms skud ek hom net om seker te maak hy lewe nog! :lol:

  5. September 17, 2008 at 9:43 am

    Ek was ook al daar, ook met brandewyn, tot vandag toe kan ek nie die reuk van brandewyn verdra nie. Ek was byna dood en het die heelnag om gebid!!

    Whahaha ek het jou inskrywing baie geniet Boendoe!

  6. September 17, 2008 at 9:52 am

    Brandewyn het nie brieke nie… :lol: My pa het brandewyn gedrink, en ek kon nooit die reuk verdra nie. So twee jaar terug het ek vir die eerste keer brannas en coke gedrink… en dit nogal lekker gevind! Maar daai liewe babbelaas daarna… oi!

  7. 7 BB
    September 17, 2008 at 10:32 am

    Dalk is dit hoe ek voel oor Delsch se skaapkop??? as sy vir my brannewyn in ‘n koffiebeker gee sal ek dalk ook die wangetjies en ogies kan peusel – en sal hulle uiteindelik hulle laaste rusplek in ‘n emmer langs my bed vind :roll: – ek SIDDER!!!
    /wag laa’k gaan loer daar by Delsch of sy al ‘n foto van die roadkill opgesit het :mrgreen:

  8. September 17, 2008 at 11:37 am

    Dit is so lekker om hier te kuier! Lekker gelag! Cheers!!

  9. September 17, 2008 at 11:58 am

    Nou lekker gelag!!

    My seun se een oog is ook halfpad oop as hy slaap. Dit is nogal scary!!

  10. September 17, 2008 at 12:21 pm

    ‘n Kreef wat op die brandewynkar ry!!! Boere-kreef! baie snaaks, heerlik gekuier.

  11. September 17, 2008 at 12:24 pm

    Bwahaha! Wens ek kon dit sien.

  12. September 17, 2008 at 1:15 pm

    Dis baie snaaks! Ek is lief vir kreef (bly immers in die Kaap!) maar kan wragtag nie meer teen die einde van die seisoen die goed voor my oë verdra nie. Ek kan dink brandewyn EN kreef kan jou so bietjie olik maak…

  13. September 17, 2008 at 3:07 pm

    Ag foei tog, Boendoe! Ek kan my net indink…

  14. September 17, 2008 at 6:22 pm

    Ek like nogal van gaar (verouderde) KWV . . . :wink:

  15. September 17, 2008 at 7:23 pm

    Ek het my share gehad met oosterlinge en hulle kuier gewoontes hier in korea. Nuwejaar. Mens wil mos nie ongeskik wees en nee se vir hulle nie so jy speel maar saam die drinking game van hulle, noodloos om te se ek het 2008 baie veeslik ingeverwelkom. Ons het soju – proe baie soos vodka en vlouer en konjak gedrink. ‘n R1000 of daar naby se konjak gedrink binne n paar minute met n drinking game. Ja die aand het goed afgeloop maar die volgende oggend moes ons 7uur op wees om die son opkoms te aanskou. Wel ja jy kan met jouself indink hoe ongelukkig ek was daarmee. My innige simpatie boendoe. Oosterlinge is bie groot op alchipos nie, hulle hou van die duurste en beste drank om mee te kuier- die whiskies soos jack daniels en die kwv’s is hier volop en fotton duur. Ek het nou so n flasback gekry toe ek jou storietjie lees, heheehe. :)

  16. 16 maxie
    September 17, 2008 at 8:26 pm

    Het dit nou baie geniet, lekker gelag, dankie!

  17. September 17, 2008 at 9:17 pm

    Gie gie …. hulle kan bly wees jy het hulle nie gegrimeer na die KWV’tjie. Ek dink hulle sou nooit dit gemaak het. :lol:

    Lekker gelees … o jaaaaaaaaaa wanneer vertek jy. Onthou om totsiens te se!! :mrgreen:

  18. September 17, 2008 at 9:46 pm

    Daar is niks soos die eerste babelas nie! Ek het nog geswot en die volgende oggend gehol om 08:00 in die klas te sit. Het natuurlik agter loop sit en bewe – het daarna maar terug bed toe gesluip

  19. September 18, 2008 at 12:47 am

    BB, jy weet, skaapkop en brandewyn…ek dink dit sal my einde beteken… :lol: Veral gesmelte skaapkop!

    Eben, ek vlieg HOPELIK Vrydag Jhb toe, en Saterdag Luanda. MAAR…daar is mos altyd ‘n maar…die Angolese ambassade was voorverlede week toe agv die verkiesing, laas Woensdag is iemand oorlede en is hy weer gesluit, Maandag het hy oopgemaak en Woensdag was vakansiedag. So, of ek ‘n visum gaan kry, is ‘n baie goeie vraag! :roll:

    Mocka, jy sal beter weet as ek, maar daai Taiwanese was verskriklik gasvry. Hulle sou hul klere vir ons uittrek as ons dit wou he. En hulle vrek oor babas! Maar hulle drink sonder brieke. :wink:

    Krista, ek glo as ek onder beter omstandighede kennis gemaak het met KWV brannas, het ek dalk ook ‘n liefde daarvoor gehad!

    Maxie, hi, ek dink nie ek het jou al hier raakgelees nie? Welkom!

  20. September 18, 2008 at 2:56 pm

    Eina tog my skat kom ons probeer asyn
    ek het die ouboet van alle hoofpyn
    o die liewe naarheid
    nou besef ek eers die waarheid
    dis vreeslik hierdie wrede babalaas

    Vat my na ‘n spoorwegstasie
    ‘n boomplantasie
    vergeet die inflasie
    is ek versprei oor ‘n wye spasie
    Hoe’t ek my gedra…?

    Nooit nooit weer
    nooit nooit weer
    eina tog my kop is seer
    die mannetjie die hammer weer
    ‘n babalaas niks kan dit keer

    Hoe’t ek my gedra…?*

    die res van die woorde kan ek nie meer onthou…
    maar dis woorde wat die waarheid in Jesaja 5:22 baie mooi uitspel

    (Jesaja 5:22) Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng;

    *(met erkenning aan ou blikkies ‘n studentevriend van my wat hierdie song geskryf het)

  21. September 18, 2008 at 2:59 pm

    Dankie, Johannes. Mannetjie met die hamer, inderdaad… :lol:


Leave a Reply




Kalender

September 2008
M T W T F S S
« Aug   Oct »
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
2930  

RSS Amolavita

RSS Carina

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Delilla

RSS Ding

RSS Eelt

RSS Gert

RSS Jane

RSS Kyker

RSS Oopkop Anja

RSS Pikkie

RSS Rosa

RSS Rustig

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Sammi

RSS Skalkskryf

RSS Sonkind

RSS Vygie

RSS Wipneus

  • Zen July 2, 2009

RSS Zee

Waar’s julle?

Vlaggies, vanwaar?

…en waar nog?

website counter

Kuier Meter

  • 50,741 hits

Archives